Marais-Huis, Coetzenburg. Foto deur Johan Wilke.

WELKOM

Het Jan Marais Nationale Fonds het ’n reusebydrae tot vooruitgang in Stellenbosch en in Suid-Afrika gemaak sedert dit op 30 Mei 1915 uit die nalatenskap van die versiende Johannes Henoch Marais gevestig is. Hierdie fonds bevorder die belange van die land se hele Afrikaanssprekende gemeenskap, met voorkeur aan die distrik Stellenbosch.

Op 15 Mei 2015, ‘n eeu later, word die Jan H Marais-prys  ingestel om elke jaar ‘n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal te erken. Dié prys ter waarde van R500 000 word toegeken aan wetenskaplike werk en publikasies van hoë gehalte, in Afrikaans. Die keuring word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns behartig en word elke jaar op 30 Mei, op Jan Marais se sterfdatum, in Stellenbosch oorhandig.

In ‘n boek oor hierdie besonderse man en sy broers,  beskryf die historikus, Pieter Kapp, hoe die broers in die 19de eeu op die Diamantvelde welvarend geword het. Hulle was idealiste en weldoeners wat hulle rykdom in belang van hulle gemeenskap, onderwys en Afrikaans aangewend het. Jannie is tereg deur Stellenbosse studente ‘Jan die Gewer’ gedoop. Hy is en bly steeds een van Suid-Afrika se grootste filantrope.

Meer as ‘n eeu na sy dood steun sy nalatenskap nog steeds dit wat in sy lewe vir hom belangrik was.

Die Ou Hoofgebou, befonds deur Jan H Marais. Foto deur Henri Cloete.
JOHANNES (JANNIE) HENOCH MARAIS (1851 – 1915)

Johannes Henoch (Jannie) Marais het as filantroop en ondersteuner van Afrikaans onder meer die vestiging van die Universiteit van Stellenbosch moontlik gemaak.

Hy is op 8 September 1851 op die plaas Coetzenburg buite Stellenbosch gebore en as die jongste van tien kinders tuis en aan die Stellenbosch Gymnasium opgevoed.

Jannie was as kind al handvaardig en knap met masjinerie. Dié vermoë is goed gebruik toe hy in 1870 as negentienjarige saam met drie van sy broers na die delwerye aan die Vaalrivier vertrek het. ‘n Jaar later is hulle na New Rush, oftewel Kimberley, waar hulle baie geld gemaak het. Hulle het onder meer ‘n belangrike aandeel verkry in die Kimberley Central Mining Company toe dié onderneming uit verskeie kleiner mynmaatskappye saamgestel is. Met die latere samesmelting van Kimberley Central Mining  met De Beers  het die broers uitgebreide belange in De Beers Consolidated Mines verwerf.

Marais keer in 1892 as ‘n vermoënde man terug na Stellenbosch. Hy koop Coetzenburg van sy ma om self te boer. In 1899 het hy ‘n lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering geword. Nádat die Unie van Suid-Afrika in 1910 gevorm is, was hy tot sy dood ‘n Volksraadslid. Ander besture waarin hy gedien het sluit in die plaaslike hospitaalraad en ook die afdelingsraad. Onder sy sakebelange was die Lion Distillery op Vlottenburg en die Malmesbury Voogdy- en Assuransiemaatskappy.

Voor die stigting van Die Burger het Marais van 1914 tot 1915 saamgewerk met ‘n Stellenbosse groep wat ‘n Afrikaanse koerant wou stig. Marais het uiteindelik die vestiging van hierdie koerant moontlik gemaak deur borg te staan vir die beduidende bedrag wat nodig was om ’n drukpers aan te koop. Hy het ongelukkig egter nie die eerste verskyning van Die Burger beleef nie.

Onderwys was ‘n ander veld  waarin Marais ‘n betekenisvolle bydrae gemaak het. Hy was lid van die raad van die Victoria Kollege, wat later die Universiteit van Stellenbosch geword het, en het onder meer ‘n ruim skenking gemaak vir die oprigting van die Fisika-gebou.

Die eerste Unie-parlement het planne vir ‘n universiteit in Kaapstad in die vooruitsig gestel, maar die destydse regering het uiteindelik 100 000 pond sterling, ‘n uiters beduidende bedrag vir daardie tyd, vereis om toe te laat dat Victoria Kollege nie  by Groote Schuur Kollege, wat vandag die Universiteit van Kaapstad is, ingelyf word nie.

Marais het hierdie geld in sy testament bewillig en so verseker dat Victoria Kollege as ‘n selfstandige instelling kon voortbestaan. Sy skenking is formeel gedoen op voorwaarde dat Afrikaans as ‘n gelykwaardige taal vir onderrig aan die instelling behou word: “Ter bevordering van het hoger onderwijs te Stellenbosch, doch meer beijzonder van het onderwijs in en door middel van de Hollandse taal in zijn beide vormen (dat wil zeggen Afrikaans zowel als Nederlands) en wel te dien einde dat in zodanige onderwijs de Hollandse taal in zijn beide vormen als voormeld geen mindere plaats dan de andere officiele landstaal zal innemen”.

Marais en sy vrou Elizabeth was kinderloos en het ook geld nagelaat aan instellings soos die Instituut vir Dowes en Blindes op Worcester en die Kindersendinghuis in Kaapstad. Met die restant van sy boedel is Het Jan Marais Nationale Fonds gestig, wat deur die jare studielenings aan duisende studente beskikbaar gestel het.

Hy is op 30 Mei 1915 by Montagu se warmwaterbron oorlede.

BOEDEL

Uittreksel uit testament

Het restant van mijn boedel vermaak en laat ik na aan een kommissie van zes trustees uit de gemelde heren Dr. Daniel Francois Malan, Dr. Tobias Ballot Muller, Dr. Willem Adolph Joubert, Hendrik Jacobus Bergh, Wilhelm Bruckner de Villiers en William Angus Hofmeyr (of hunne plaatsvervangers of opvolgers als leden van de gemelde kommissie te worden benoemd zoals hierinlater bepaald) hierna genoemd “de gemelde kommissie” zullen het gemelde restand van mijn boedel in kontante gelden door mijn Eksekuteurs aan de gemelde kommissie na mijn dood worden uitbetaald om door de gemelde kommissie in bewaring te worden genomen en gehouden, om voorts door hom op voldoende en behoorlike sekuriteit naar eigen en absolute diskretie doch bij voorkeur op eerste verband van vast eigendom van tijd tot tijd tegen renten naar goedgevinden te worden belegd met de macht enige aldus gedane beleggingen naar goedvinden van tijd tot tijd te veranderen of te wijzigen voorts de renten van tijd tot tijd uit zodanige beleggingen ontstaande te gebruiken en aan te wenden naar de absolute diskretie van de gemelde kommissie voor en ter bevordering van de nationale belangen op welk gebied ook van de Hollands-sprekende bevolking van Zuid-Afrika in enig deel van de Unie doch bij voorkeur op het dorp en in het distrikt Stellenbosch”.

 

Jan Marais-natuurreservaat. Foto deur Johan Wilke.
DIE FONDS
OPDRAG

Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF) is in 1915 volgens die  testament  van wyle J.H. Marais geskep: ”voor en ter bevordering van de nationale belangen op welk gebied ook van de hollands-sprekende bevolking van Zuid-Afrika in enig deel van de Unie doch bij voorkeur op het dorp en in het distrik Stellenbosch“.

Die Fonds fokus dus op die belange van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, met klem op die behoud en uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur landwyd onder alle bevolkingsgroepe, en met voorkeur aan die bevordering van die materiële en geestelike welsyn van die bevolking van die distrik Stellenbosch. Dit omvat onder meer werkskepping, die bestryding van armoede, bevordering van kultuur omgewingsbewaring asook hulp aan skole, hospitale en inrigtings vir bejaardes en gestremdes.

TRUSTEES

Prof JD Krige
Voorsitter

Mev E de la H Meaker
Ondervoorsitter

Mnr JG Carinus

Mnr AL de Waal

Prof ML le Cordeur

Me W van Heerden

VOORSITTERSVERSLAE
Laai die voorsittersverslae vir die finansiële jare af. Alle verslae is in Adobe PDF formaat.
VERGADERINGS 2017

Die vergaderings van die trustees vind in 2017 plaas op:

  • 20 Februarie
  • 24 April
  • 6 Junie
  • 19 September
  • 14 November

Aansoeke moet die sekretaris ten minste 30 dae voor die vergadering bereik om in ag geneem te word. As ‘n aansoek nie betyds ontvang word, staan dit oor tot ‘n volgende vergadering.

Aansoeke word oorweeg net as die aanlynvorm voltooi en stawende dokumentasie aangeheg is. Volledige verslae oor vorige HJMNF-skenkings moet ingehandig word.

Navrae

Vir enige navrae kontak ons.

CL Marais-biblioteek in 1898 opgerig. Dit is ‘n nalatenskap van Christiaan Ludolph Marais, ouer broer van Jan H Marais. Foto deur Johan Wilke.

AANSOEKE

RIGLYNE VIR BEFONDSING

Soos deur die 1915-testament van wyle Jan H Marais bepaal, fokus die Fonds op die belange van die Afrikaanssprekendes van Suid-Afrika, met klem op die behoud en uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur landwyd onder alle bevolkingsgroepe. Daar word voorkeur gegee aan die bevordering van die materiële en geestelike welsyn van die bevolking van die Stellenbosse distrik, onder meer met werkskepping, die bestryding van armoede, bevordering van kultuur, omgewingsbewaring asook hulp aan skole, hospitale en inrigtings vir bejaardes en gestremdes.

Die Fonds ondersteun nie buitelandse en nasionale toere, vliegkaartjies, konferensies, opvoerings, individue of persoonlike publikasies, klubs of stokperdjies nie.

Toekennings word nie outomaties jaarliks herhaal en die volle gevraagde bedrag word nie noodwendig toegestaan nie.

Aansoeke is oop vir die vergadering van 14 November 2017 en moet ons bereik teen 14 Oktober 2017.

AANSOEKVORM

Basiese besonderhede

▪ Aansoeke moet die sekretaris  30 dae voor ‘n trusteevergadering bereik, anders staan dit oor tot ‘n volgende vergadering.

▪ Onvolledige aansoeke word nie oorweeg nie.

▪ Vermy fotomateriaal, brosjures en lang verslae.

▪ Voltooi die aanlynaansoekvorm, met stawende dokumentasie.

ONTVANGERS

Die Fonds fokus op die belange van die Afrikaanssprekendes van Suid-Afrika, met klem op die behoud en uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur landwyd onder alle bevolkingsgroepe en met voorkeur aan die bevordering van die materiële en geestelike welsyn van die bevolking van die Stellenbosse  distrik.

Daar word deurgaans by die bepalings van die testament gehou. Fondse word vir hoëronderwys sowel as hoër- en laerskoolonderwys in Stellenbosch aangewend, met spesiale aandag  aan die gemeenskapsbehoeftes van Stellenbosch en die nasionale belange van Afrikaans.

KONTAK ONS

Sekretaris – Henét de Villiers

Kontak

ADRES: Meson Close 12, Tegnopark, Stellenbosch, 7599
POSADRES: Posbus 14, Stellenbosch, 7599
TELEFOON: 021 882 9862

Ander Inligting:

Klik hier om ‘n eksemplaar van Nalatenskappe sonder einde, die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers, te bekom.

Hofmeyr-saal – opgerig vir die jong mense van Stellenbosch deur die Marais broers; Frikkie, Christiaan en Jan Marais. Foto deur Johan Wilke.