Marais-Huis, Coetzenburg. Foto deur Johan Wilke.

WELKOM

Het Jan Marais Nationale Fonds het ’n reuse bydrae tot vooruitgang in Stellenbosch en in Suid-Afrika gemaak sedert dit op 30 Mei 1915 uit die nalatenskap van die versiende Johannes Henoch Marais gevestig is. Hierdie fonds bevorder die belange van die land se hele Afrikaanssprekende gemeenskap, met voorkeur aan die distrik Stellenbosch.

Op 15 Mei 2015, ‘n eeu later, word die Jan H Marais-prys  ingestel om elke jaar ‘n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal te erken. Dié prys ter waarde van R750 000 word toegeken aan wetenskaplike werk en publikasies van hoë gehalte, in Afrikaans. Die keuring word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns behartig en word elke jaar (indien moontlik) op 8 September, op Jan H Marais se geboortedatum, in Stellenbosch oorhandig.

In ‘n boek oor hierdie besonderse man en sy broers,  beskryf die historikus, Pieter Kapp, hoe die broers in die 19de eeu op die Diamantvelde welvarend geword het. Hulle was idealiste en weldoeners wat hulle rykdom in belang van hulle gemeenskap, onderwys en Afrikaans aangewend het. Jannie is tereg deur Stellenbosse studente ‘Jan die Gewer’ gedoop. Hy is en bly steeds een van Suid-Afrika se grootste filantrope.

Meer as ‘n eeu na sy dood steun sy nalatenskap nog steeds dit wat in sy lewe vir hom belangrik was.

Die Ou Hoofgebou, befonds deur Jan H Marais. Foto deur Henri Cloete.

JOHANNES (JANNIE) HENOCH MARAIS (1851 – 1915)

Johannes Henoch (Jannie) Marais het as filantroop en ondersteuner van Afrikaans onder meer die vestiging van die Universiteit van Stellenbosch moontlik gemaak.

Hy is op 8 September 1851 op die plaas Coetzenburg buite Stellenbosch gebore en as die jongste van tien kinders tuis en aan die Stellenbosch Gymnasium opgevoed.

Jannie was as kind al handvaardig en knap met masjinerie. Dié vermoë is goed gebruik toe hy in 1870 as negentienjarige saam met drie van sy broers na die delwerye aan die Vaalrivier vertrek het. ‘n Jaar later is hulle na New Rush, oftewel Kimberley, waar hulle baie geld gemaak het. Hulle het onder meer ‘n belangrike aandeel verkry in die Kimberley Central Mining Company toe dié onderneming uit verskeie kleiner mynmaatskappye saamgestel is. Met die latere samesmelting van Kimberley Central Mining  met De Beers  het die broers uitgebreide belange in De Beers Consolidated Mines verwerf.

Marais keer in 1892 as ‘n vermoënde man terug na Stellenbosch. Hy koop Coetzenburg van sy ma om self te boer. In 1899 het hy ‘n lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering geword. Nádat die Unie van Suid-Afrika in 1910 gevorm is, was hy tot sy dood ‘n Volksraadslid. Ander besture waarin hy gedien het sluit in die plaaslike hospitaalraad en ook die afdelingsraad. Onder sy sakebelange was die Lion Distillery op Vlottenburg en die Malmesbury Voogdy- en Assuransiemaatskappy.

Voor die stigting van Die Burger het Marais van 1914 tot 1915 saamgewerk met ‘n Stellenbosse groep wat ‘n Afrikaanse koerant wou stig. Marais het uiteindelik die vestiging van hierdie koerant moontlik gemaak deur borg te staan vir die beduidende bedrag wat nodig was om ’n drukpers aan te koop. Hy het ongelukkig egter nie die eerste verskyning van Die Burger beleef nie.

Onderwys was ‘n ander veld  waarin Marais ‘n betekenisvolle bydrae gemaak het. Hy was lid van die raad van die Victoria Kollege, wat later die Universiteit van Stellenbosch geword het, en het onder meer ‘n ruim skenking gemaak vir die oprigting van die Fisika-gebou.

Die eerste Unie-parlement het planne vir ‘n universiteit in Kaapstad in die vooruitsig gestel, maar die destydse regering het uiteindelik 100 000 pond sterling, ‘n uiters beduidende bedrag vir daardie tyd, vereis om toe te laat dat Victoria Kollege nie  by Groote Schuur Kollege, wat vandag die Universiteit van Kaapstad is, ingelyf word nie.

Marais het hierdie geld in sy testament bewillig en so verseker dat Victoria Kollege as ‘n selfstandige instelling kon voortbestaan. Sy skenking is formeel gedoen op voorwaarde dat Afrikaans as ‘n gelykwaardige taal vir onderrig aan die instelling behou word: “Ter bevordering van het hoger onderwijs te Stellenbosch, doch meer beijzonder van het onderwijs in en door middel van de Hollandse taal in zijn beide vormen (dat wil zeggen Afrikaans zowel als Nederlands) en wel te dien einde dat in zodanige onderwijs de Hollandse taal in zijn beide vormen als voormeld geen mindere plaats dan de andere officiele landstaal zal innemen”.

Marais en sy vrou Elizabeth was kinderloos en het ook geld nagelaat aan instellings soos die Instituut vir Dowes en Blindes op Worcester en die Kindersendinghuis in Kaapstad. Met die restant van sy boedel is Het Jan Marais Nationale Fonds gestig, wat deur die jare studielenings aan duisende studente beskikbaar gestel het.

Hy is op 30 Mei 1915 by Montagu se warmwaterbron oorlede.

BOEDEL

Uittreksel uit testament

Het restant van mijn boedel vermaak en laat ik na aan een kommissie van zes trustees uit de gemelde heren Dr. Daniel Francois Malan, Dr. Tobias Ballot Muller, Dr. Willem Adolph Joubert, Hendrik Jacobus Bergh, Wilhelm Bruckner de Villiers en William Angus Hofmeyr (of hunne plaatsvervangers of opvolgers als leden van de gemelde kommissie te worden benoemd zoals hierinlater bepaald) hierna genoemd “de gemelde kommissie” zullen het gemelde restand van mijn boedel in kontante gelden door mijn Eksekuteurs aan de gemelde kommissie na mijn dood worden uitbetaald om door de gemelde kommissie in bewaring te worden genomen en gehouden, om voorts door hom op voldoende en behoorlike sekuriteit naar eigen en absolute diskretie doch bij voorkeur op eerste verband van vast eigendom van tijd tot tijd tegen renten naar goedgevinden te worden belegd met de macht enige aldus gedane beleggingen naar goedvinden van tijd tot tijd te veranderen of te wijzigen voorts de renten van tijd tot tijd uit zodanige beleggingen ontstaande te gebruiken en aan te wenden naar de absolute diskretie van de gemelde kommissie voor en ter bevordering van de nationale belangen op welk gebied ook van de Hollands-sprekende bevolking van Zuid-Afrika in enig deel van de Unie doch bij voorkeur op het dorp en in het distrikt Stellenbosch”.

 

JAN H MARAIS-PRYS

AGTERGROND

Die jaarlikse Jan H Marais-prys is in 2015 geskep deur ‘n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Media24 en die Universiteit van Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op Kimberleyse diamantvelde gemaak het. Jannie Marais was ‘n groot ondersteuner van Afrikaans as ‘n akademiese en literêre taal.

Die doel van die prys is erkenning vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Hierdie prys vir ‘n bydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die keuring geskied deur ’n wetenskaplik verteenwoordigende keurkomitee van vooraanstaande plaaslike en/of internasionale wetenskaplikes, jaarliks spesiaal saamgestel deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, kragtens kriteria soos jaarliks vasgestel en geadverteer deur die keurkomitee en belyn met die Doel van die Prys.

Artikel in koerant oor Jan H Marais

BEELD – “Die Helpende Hand”

Agtergrondinligting oor die beeld, “Die Helpende Hand”:  

In 1950 het mev. Marais die beeldhouer Coert Steynberg, genader om ‘n beeld van haar man, Jan H Marais, vir die kampus van die Universiteit van Stellenbosch te skep.

Steynberg het “Die Helpende Hand” ontwerp en sy het dit goedgekeur. Haar broer, Paultjie de Villiers, het haar egter afgeraai om haar toestemming te gee, want “Jannie het mos nooit met ander vroumense gelol nie”. Coert Steynberg moes toe ‘n portret van Jan H Marais as basis vir die granietbeeld wat tans op die kampus staan, gebruik.

Verder berig Isa Steynberg dat Paul de Villiers kom kyk het waar haar vader, Coert Steynberg op die kampus, aan die beeld gewerk het en dat hy van mening was “dat die neus te breed is”. Die verduideliking dat dit was om die verskillende vlakke te aksentueer en met opset so gedoen is ter wille van die hoogte waarop die beeld sou staan, was nie vir hom aanvaarbaar nie. Coert Steynberg het vertel: “Toe moes ek maar doen wat Michelangelo op ‘n dag gedoen het. Ek het afgebuk, my beitel saam met ’n handvol gruisstof opgetel en gemaak asof ek aan die neus wegkap. Gekap dat die stof so staan, maar in werklikheid nie ‘n duisendste van ‘n sentimeter weggekap nie. Paultjie was na ‘n ruk tevrede”. Die gipsmodel om die afmetings en dieptes vir die granietbeeld te bepaal bestaan nie meer nie en daar is ook nie ‘n maket van die beeld nie.

Die maket van “Die Helpende Hand” bestaan wel en is in Isa Steynberg se besit. Toe sy deur die Trustees van die Jan H Maraisprys genader is, het sy goedgunstiglik ingestem om nog vyf van die beeldjies in brons te laat giet. Prof. Hermann Giliomee was op 30 Mei 2016 die eerste ontvanger van “DIE HELPENDE HAND” beeldjie.

Wenner 2023

Prof Louise Viljoen studeer aan die Universiteit Stellenbosch en behaal die grade BA (1975), BA Hons (cum laude, 1976), MA (cum laude, 1979) en D. Litt. (1988) in Afrikaans en Nederlands.

Sy was ‘n uitgelese professor aan die US tot haar aftrede aan die einde van 2019 en sy was ook by verskeie ander universiteite ‘n gasdosent, ‘n hoogleraar in die leerstoel Zuid-Afrika: Talen, literaturen, cultuur en maatschappij aan die Universiteit Gent in België en van 1996 tot 2013 dien sy in die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Prof Viljoen het sowat 60 artikels in vaktydskrifte gepubliseer; 30 hoofstukke in boeke en drie boeke. Erkenning vir haar vakkundige bydraes in Afrikaans blyk uit haar ontvangs van onderskeie beurse, pryse en toekennings, wat insluit die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap en Literêre Kritiek van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2016), en die ATKV-SA Akademieprys vir die beste wetenskaplike artikel in Afrikaans (in 2012 en weer in 2019).

Persverklaring

Afrikaans Sentraal en Die Burger: Wenner van vanajaar se Jan H. Marais-prys by spoggeleentheid aangewys

Professor Louise Viljoen

Wenner 2022

Prof Rufus Gouws, een van Suid-Afrika se toonaangewende leksikograwe, studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal agtereenvolgens die grade BA (1974), BA Hons (Cum Laude, 1975), MA (Cum Laude, 1977) en D.Litt (1982) in Afrikaans en Nederlands.

Sy produktiewe doseer- en navorsingsloopbaan in die Afrikaanse taalkunde strek oor 45 jaar, waar hy 36 studente op magistervlak en 24 studente op doktorale vlak tot die voltooiing van hulle kwalifikasies begelei.

Prof Gouws vestig Leksikografie suksesvol as ’n kernnavorsingskomponent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch en rig sy eie navorsing uitsluitlik op metaleksikografie en hy word as B2-navorser gegradeer.

Sy omvangryke publikasielys staan tans op 123 artikels in eweknie-geëvalueerde vaktydskrifte; 76 hoofstukke in boeke; en 20 boeke as alleenouteur of as mede-outeur. Hy het ook reeds ʼn totaal van meer as 100 referate, beide internasionaal en plaaslik, gelewer.

Professor Rufus Gouws

Wenner 2021

Prof Van Coller het op sy beurt ‘n formidabele vakkundige publikasierekord as literatuurwetenskaplike, en is boonop ‘n erkende digter, vertaler en prosaskrywer. Hy het sy eerste kwalifikasies aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) verwerf, en sy doktorsgrade aan die Universiteit van Utrecht in Nederland en die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU). Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het hom in 1997 met ‘n bevordering tot uitgelese professor vereer.

Hy publiseer meer as honderd en dertig artikels in geakkrediteerde tydskrifte, veertig hoofstukke in boeke, talle resensies en artikels in populêre tydskrifte en koerante.

Professor Hennie van Coller

Wenner 2021

Prof Wolfaardt-Gräbe, wat haar doktorsgraad aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (deesdae Noordwes-Universiteit) behaal het, was van 1984 tot en met haar aftrede in 2005 verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) – eers aan die Departement Algemene Literatuurwetenskap en later die Departement Afrikaans. Sy is bekend vir haar werk as teoretikus, en as dryfkrag agter die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, ‘n internasionaal gerekende Afrikaanse vaktydskrif.

Sy behaal die D.Litt. et Phil, in Algemene Literatuurwetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Haar proefskrif, Aspekte van poëtiese taalgebruik, is nog steeds ʼn baken in die poësie-analise in Afrikaans. Sy is ʼn belangrike deelnemer aan die debat oor letterkunde en die lees van tekste in Afrikaans in haar 24 artikels, 10 boekhoofstukke en 6 resensies van belangrike teoretiese werke.

Professor Ina Wolfaardt-Gräbe

Wenner 2020

Prof Jean Christoph Sonnekus, een Suid-Afrika se bekendste akademiese regsgeleerdes, het sedert April 1976 tot sy aftrede in 2016 sy loopbaan by RAU, later Universiteit van Johannesburg deurgebring.

Jean Sonnekus het oor die afgelope 45 jaar 18 boeke of hoofstukke in boeke en meer as driehonderd wetenskaplike artikels geskryf, vele daarvan internasionaal en grotendeels in Afrikaans. Hy het hom deurgaans, ook as redakteur van die Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, sterk beywer vir Afrikaans as regstaal.

Prof Sonnekus is deur die Nasionale Navorsingstigting as ‘n B1-navorser gegradeer, d w s as ’n navorser wat internasionale erkenning geniet en beskou word as ‘n vooraanstaande internasionale kenner van die Huweliksgoederereg en die Sakereg. In 2002 het hy die Toon van den Heever-prys vir Regswetenskap van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang en twee keer die ATKV-prys vir die beste artikel in Afrikaans in ‘n vakkundige tydskrif (2013 en 2019).

Persverklaring:  Jan H Marais-prys 2020

Curriculum Vitae van Prof Jean Christoph Sonnekus

Professor Jean Christoph Sonnekus

H Wenner 2019

Prof Pretorius is een van Suid Afrika se bekendste historici en lewer ‘n reuse bydrae tot die breë geskiedenislandskap. Sy gerekendheid as kundige oor die geskiedenis van die Anglo Boere-oorlog van 1899 tot 1902 dek ‘n wye spektrum. Hy geniet internasionale erkenning met ‘n B1 gradering deur die Internasionale Navorsingsfonds (International Research Foundation). Fransjohan Pretorius het oor die afgelope 45 jaar honderde publikasies geskryf, insluitend boeke en artikels in akademiese asook nie-subsidiedraende tydskrifte.

Sy werk oor kommandolewe tydens die Anglo Boere-oorlog word internasionaal erken as een van die belangrikste ondersoeke na daardie pynlike tydperk van ons land se geskiedenis.

In 1998 ontvang hy die Stalsprys vir Historiese Wetenskappe van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en in 2001 ‘n prestigeprys van die FAK.

Persverklaring:  Jan H Marais-prys 2019

Jan H Marais-prys 2019

Koerantberig

Curriculum Vitae van Fransjohan Pretorius

Professor Fransjohan Pretorius

Wenner 2018

Professor Christo van Rensburg word vereer vir ‘n loopbaan in diens van Afrikaans en sy historiese variëteite.

Prof Van Rensburg se hele loopbaan het in diens gestaan van Afrikaans en danksy hom het verskeie uiters belangrike sienings oor die taal as studieterrein en oor die taal se herkoms na vore gekom. Reeds sy werk as kenner van Afrikaans se historiese variëteite en ook sy navorsing rakende die herkoms van Afrikaans, in die besonder die invloed van Khoi-Afrikaans, maak hom een van die belangrikste rolspelers nóg in die geskiedenis van die Afrikaanse taalkunde. Sy werk het hy voortgesit ná sy aftrede en tot op die ouderdom van bykans 80 het hy steeds voortreflike en baanbrekende werk gelewer. Prof Van Rensburg is oorlede in Augustus 2018.

Persverklaring:  Jan H Marais-prys 2018

Jan H Marais-prys Vir Wetenskaplike Prestasie In Afrikaans:  2018

Volledige Curriculum Vitae van Christo van Rensburg

Professor Christo van Rensburg

Wenner 2018

Professor Marinus Wiechers het die weg gebaan vir erkenning van die administratiefreg as ‘n sleutelonderdeel van die Suid-Afrikaanse reg. Sy seminale werk het ‘n model van die Franse Administratiefreg in Suid-Afrika nagevolg waardeur hy ‘n nog immer beduidende bydrae tot die nuwe bedeling in SA gemaak het.

Sy wetenskaplike stem is gereeld en duidelik in die tweede helfte van die twintigste eeu in boeke en artikels gehoor, maar dit het nie stil geword aan die einde van 1997 nie toe hy as rektor van die Universiteit van Suid-Afrika afgetree en voltydse skilder geword het. Hy het tot sy afsterwe in September 2018 ‘n gereelde deelnemer aan die openbare debat, dikwels oor radio en televisie, maar ook as skrywer ‘n bydrae gelewer.

Oorhandigingsseremonie in Pretoria op 24 April 2018

Persverklaring:  Jan H Marais-prys 2018

Volledige Curriculum Vitae van Marinus Wiechers

Professor Marinus Wiechers

Wenner 2017

Jaap Steyn het oor die afgelope bykans vyftig jaar honderde publikasies geskryf, van koerantartikels tot gedigte en kortverhale. Sy biografieë van NP van Wyk Louw, Piet Cillié en MER word as standaard beskou. Hy het veral bekend geword vir sy twee boeke oor die  geskiedenis van Afrikaans, Tuiste in eie taal (1980) en Ons gaan ‘n taal maak (2014).

Vir sy werk het prof. Steyn reeds talle eerbewyse ontvang, onder andere die Stalsprys, die Louis Hiemstraprys, die NP van Wyk Louwmedalje en Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

2017 Persverklaring van Jan H Marais-prys

Volledige Curriculum Vitae van Jaap Steyn

Professor Jaap Steyn

Wenner 2017

Prof. Van der Watt geniet wêreldwye erkenning as deskundige oor die Nuwe Testament en as sodanig het hy bande met akademiese instellings wat strek van Duitsland en Rusland tot Suid-Korea. Sy talle publikasies (waarvan baie in Afrikaans, maar ook in Duits, Engels en Nederlands) het tot eerbewyse en ook uitnodigings na akademiese instellings orals ter wêreld gelei. Aan die UP is hy as ‘n uitstaande akademikus presteerder erken. In Suid-Afrika het hy onder andere die Andrew Murrayprys en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Ds. Pieter van Drimmelenmedalje ontvang.

2017 Persverklaring van Jan H Marais-prys

Oorhandiging van Jan H Marais-prys aan Jan van der Watt

Volledige Curriculum Vitae van Jan van der Watt

Professor Jan van der Watt

Wenner 2016

Hermann Giliomee is al meer as 40 jaar lank nie slegs een van Suid-Afrika se voorste geskiedkundiges nie, maar ook ‘n politieke ontleder wie se mening oor verskeie onderwerpe altyd in aanvraag is.

Tydens sy loopbaan het Giliomee in ‘n ontsagwekkende aantal joernale gepubliseer, baie daarvan hoog aangeslane internasionale publikasies. Die belangrikste is egter sy aansienlike uitset in boekformaat. Hy was met nie minder nie as ‘n dosyn boeke gemoeid as óf die enigste outeur óf mede-outeur, redakteur of mederedakteur.

Eerste wenner van Jan H Marais-prys word aangewys

Oorhandiging van Jan H Marais-prys aan Herman Giliomee

Opsommende Curriculum Vitae van Herman Giliomee

Professor Herman Giliomee

DIE FONDS

OPDRAG

Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF) is in 1915 volgens die  testament  van wyle J.H. Marais geskep: ”voor en ter bevordering van de nationale belangen op welk gebied ook van de hollands-sprekende bevolking van Zuid-Afrika in enig deel van de Unie doch bij voorkeur op het dorp en in het distrik Stellenbosch“.

Die Fonds fokus dus op die belange van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, met klem op die behoud en uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur landwyd onder alle bevolkingsgroepe, en met voorkeur aan die bevordering van die materiële en geestelike welsyn van die bevolking van die distrik Stellenbosch.

Die Het Jan Marais Nationale Fonds moet onderskei word van die Het Jan Marais Fonds. Laasgenoemde is onder bestuur van die Universiteit van Stellenbosch en die mandaat verskyn in die lewensbeskrywing van Johannes Henoch Marais.

VERGADERINGS 2023

Die vergaderings van 2023 vind op die volgende datums plaas:

Vergaderdatum Afsnydatum van inhandiging
16 Februarie 25 Januarie
09 Mei 14 April
26 Julie 26 Junie
19 September 22 Augustus
14 November 30 Oktober

Aansoeke moet die sekretaris ten minste 30 dae voor die vergadering bereik om in ag geneem te word. As ‘n aansoek nie betyds ontvang word, staan dit oor tot ‘n volgende vergadering. Aansoeke word oorweeg net as die aanlynvorm voltooi en stawende dokumentasie aangeheg is. Volledige verslae oor vorige HJMNF-skenkings moet ingehandig word.  Die nuutste geouditeurde state met notas wat deur Direksie en Ouditeur onderteken is, word versoek. Hiersonder sal aansoeke nie oorweeg word nie. Aansoeke sal slegs tydens trusteevergaderings oorweeg word en nie buite geskeduleerde datums bespreek word nie. Navrae

CL Marais-biblioteek in 1898 opgerig. Dit is ‘n nalatenskap van Christiaan Ludolph Marais, ouer broer van Jan H Marais. Foto deur Johan Wilke.

AANSOEKE

RIGLYNE VIR BEFONDSING

Soos deur die 1915-testament van wyle Jan H Marais bepaal, fokus die Fonds op die belange van die Afrikaanssprekendes van Suid-Afrika, met klem op die behoud en uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur landwyd onder alle bevolkingsgroepe. Daar word voorkeur gegee aan die bevordering van die materiële en geestelike welsyn van die bevolking van die Stellenbosse distrik, onder meer met werkskepping, die bestryding van armoede, bevordering van kultuur, omgewingsbewaring asook hulp aan skole, hospitale en inrigtings vir bejaardes en gestremdes.

Slegs organisasies wat by SARS as ‘n Openbare Weldaadsorganisasie geregistreer is, sal kwalifiseer vir ‘n toekenning vanaf die trust. Die nodige bewyse van derglike registrasie moet die aansoek vergesel.

Die Fonds ondersteun nie buitelandse en nasionale toere, vliegkaartjies, konferensies, opvoerings, individue, persoonlike publikasies, klubs of stokperdjies nie.

Alle versoeke – ook vir besoeke – moet aan die kantoor/sekretaris gerig word en geensins aan individuele trustees nie. Geen direkte versoeke aan enkele trustees mag of sal gunstige oorweging geniet nie. Die besluite van die Het Jan Marais Nationale Fonds is kollektiewe besluite wat na deeglike oorweging en besinning geneem word. Aansoeke sal slegs tydens trusteevergaderings oorweeg word en nie buite geskeduleerde datums bespreek word nie.

Die Trust se toekenningsbesluite is finaal en sal nie herbesoek word nie. Verdere onderhoude en besprekings sal nie toegestaan word nie.

Toekennings word nie outomaties jaarliks herhaal en die volle gevraagde bedrag word nie noodwendig toegestaan nie.  Indien ‘n aansoek afgekeur word, sal heraansoeke nie oorweeg word nie.  Applikante wie se aansoeke onsuksesvol was, moenie binne 5 jaar weer aansoek doen nie.

Let op die sluitingstyd vir aansoeke.

BELANGRIKE NOTA:  aansoekers se volledige finansiële state moenie ouer as 12 maande wees nie en deur beide die ouditeur en direksie afgeteken wees.  Indien die aansoeke nie hieraan voldoen nie, sal dit glad nie oorweeg word nie.

AANSOEKVORM

Basiese besonderhede

  • Aansoeke moet die sekretaris 30 dae voor ‘n trusteevergadering bereik, anders staan dit oor tot ‘n volgende vergadering.
  • Onvolledige aansoeke word nie oorweeg nie.
  • Indien kwotasies aangeheg word, verklein die formaat van die kwotasies.

Vermy

  • fotomateriaal, brosjures en lang verslae
  • inligting wat nie relevant is tot die spesifieke aansoek nie
  • knip en plak uit jaarverslae wat lei tot herhaling
  • aansoeke langer as 4 bladsye

Die volgende word verlang

  • toon duidelik die geografiese trefwydtes van die instansie
  • die persentasie Afrikaanssprekendes tot wie se voordeel die skenking sou wees
  • die aantal persone wat bereik word
  • noem ander donateurs wat ook tot die instansie bydra

Voltooi die aanlynaansoekvorm, met stawende dokumentasie.

ONTVANGERS

Die Fonds fokus op die belange van die Afrikaanssprekendes van Suid-Afrika, met klem op die behoud en uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur landwyd onder alle bevolkingsgroepe en met voorkeur aan die bevordering van die materiële en geestelike welsyn van die bevolking van die Stellenbosse  distrik.

Daar word deurgaans by die bepalings van die testament gehou. Fondse word vir hoëronderwys sowel as hoër- en laerskoolonderwys in Stellenbosch aangewend, met spesiale aandag  aan die gemeenskapsbehoeftes van Stellenbosch en die nasionale belange van Afrikaans.

Slegs organisasies wat by SARS as ‘n Openbare Weldaadsorganisasie geregistreer is, sal kwalifiseer vir ‘n toekenning vanaf die trust. Die nodige bewyse van derglike registrasie moet die aansoek vergesel.

Jannie Marais – Huis te Coetzenburg.  Foto deur Johan Wilken.

GALERY

 

KONTAK ONS

Sekretaris – Ilzemarie Knoetze

Kontak

Hofmeyr-saal – opgerig vir die jong mense van Stellenbosch deur die Marais broers; Frikkie, Christiaan en Jan H Marais. Foto deur Johan Wilke.