
JAN H MARAIS-PRYS
AGTERGROND
Die jaarlikse Jan H Marais-prys is in 2015 geskep deur ‘n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Media24 en die Universiteit van Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op Kimberleyse diamantvelde gemaak het. Jannie Marais was ‘n groot ondersteuner van Afrikaans as ‘n akademiese en literêre taal.
Die doel van die prys is erkenning vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Hierdie prys vir ‘n bydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Die keuring geskied deur ’n wetenskaplik verteenwoordigende keurkomitee van vooraanstaande plaaslike en/of internasionale wetenskaplikes, jaarliks spesiaal saamgestel deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, kragtens kriteria soos jaarliks vasgestel en geadverteer deur die keurkomitee en belyn met die Doel van die Prys.
BEELD – “Die Helpende Hand”
Agtergrondinligting oor die beeld, “Die Helpende Hand”:
In 1950 het mev. Marais die beeldhouer Coert Steynberg, genader om ‘n beeld van haar man, Jan H Marais, vir die kampus van die Universiteit van Stellenbosch te skep.
Steynberg het “Die Helpende Hand” ontwerp en sy het dit goedgekeur. Haar broer, Paultjie de Villiers, het haar egter afgeraai om haar toestemming te gee, want “Jannie het mos nooit met ander vroumense gelol nie”. Coert Steynberg moes toe ‘n portret van Jan H Marais as basis vir die granietbeeld wat tans op die kampus staan, gebruik.
Verder berig Isa Steynberg dat Paul de Villiers kom kyk het waar haar vader, Coert Steynberg op die kampus, aan die beeld gewerk het en dat hy van mening was “dat die neus te breed is”. Die verduideliking dat dit was om die verskillende vlakke te aksentueer en met opset so gedoen is ter wille van die hoogte waarop die beeld sou staan, was nie vir hom aanvaarbaar nie. Coert Steynberg het vertel: “Toe moes ek maar doen wat Michelangelo op ‘n dag gedoen het. Ek het afgebuk, my beitel saam met ’n handvol gruisstof opgetel en gemaak asof ek aan die neus wegkap. Gekap dat die stof so staan, maar in werklikheid nie ‘n duisendste van ‘n sentimeter weggekap nie. Paultjie was na ‘n ruk tevrede”. Die gipsmodel om die afmetings en dieptes vir die granietbeeld te bepaal bestaan nie meer nie en daar is ook nie ‘n maket van die beeld nie.
Die maket van “Die Helpende Hand” bestaan wel en is in Isa Steynberg se besit. Toe sy deur die Trustees van die Jan H Maraisprys genader is, het sy goedgunstiglik ingestem om nog vyf van die beeldjies in brons te laat giet. Prof. Hermann Giliomee was op 30 Mei 2016 die eerste ontvanger van “DIE HELPENDE HAND” beeldjie.
Wenner 2024
Prof Carstens is in 1952 gebore. Hy matrikuleer einde 1970 aan die Hoërskool Jan Möhr in Windhoek, Namibië. Hy studeer vervolgens aan die Universiteit Stellenbosch en behaal agtereenvolgens die grade BA Tale (1973), BA Hons Afrikaans en Nederlands (1974), MA in Afrikaanse taalkunde (1977) en D.Litt. (1985) in Afrikaanse taalkunde. Hy het ook in 1975 ʼn Hoër Onderwysdiploma (HOD) verwerf.
Hy het bykans 50 artikels in vaktydskrifte en 14 hoofstukke in boeke gepubliseer, en het ook ongeveer 90 referate by vakkongresse nasionaal en internasionaal gelewer.
Sy navorsing word gekenmerk deur waagmoed en innovasie, soos blyk uit sy boeke. Hierdeur is onontginde terreine verken en aan ʼn breër publiek bekendgestel. Sy Norme vir Afrikaans is byvoorbeeld een van die Afrikaanse taalkunde se topverkopers.
Erkenning vir sy vakkundige bydraes in Afrikaans blyk uit sy ontvangs van verskeie beurse, pryse en toekennings, wat insluit die CJ Langenhovenprys vir Afrikaanse taalwetenskap (twee keer), die Van Ewijckstigting vir sy werk om kulturele bande tussen Suid-Afrika en Nederland te herstel, ʼn ATKV-Woordwyser-toekenning vir die 4de uitgawe van sy boek Norme vir Afrikaans (2003). Onlangs het die SA Vereniging van Neerlandistiek (SAVN) erelidmaatskap van die vereniging aan hom toegeken.
Wenner 2023
Prof Louise Viljoen studeer aan die Universiteit Stellenbosch en behaal die grade BA (1975), BA Hons (cum laude, 1976), MA (cum laude, 1979) en D. Litt. (1988) in Afrikaans en Nederlands.
Sy was ‘n uitgelese professor aan die US tot haar aftrede aan die einde van 2019 en sy was ook by verskeie ander universiteite ‘n gasdosent, ‘n hoogleraar in die leerstoel Zuid-Afrika: Talen, literaturen, cultuur en maatschappij aan die Universiteit Gent in België en van 1996 tot 2013 dien sy in die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Prof Viljoen het sowat 60 artikels in vaktydskrifte gepubliseer; 30 hoofstukke in boeke en drie boeke. Erkenning vir haar vakkundige bydraes in Afrikaans blyk uit haar ontvangs van onderskeie beurse, pryse en toekennings, wat insluit die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap en Literêre Kritiek van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2016), en die ATKV-SA Akademieprys vir die beste wetenskaplike artikel in Afrikaans (in 2012 en weer in 2019).
Wenner 2022
Prof Rufus Gouws, een van Suid-Afrika se toonaangewende leksikograwe, studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal agtereenvolgens die grade BA (1974), BA Hons (Cum Laude, 1975), MA (Cum Laude, 1977) en D.Litt (1982) in Afrikaans en Nederlands.
Sy produktiewe doseer- en navorsingsloopbaan in die Afrikaanse taalkunde strek oor 45 jaar, waar hy 36 studente op magistervlak en 24 studente op doktorale vlak tot die voltooiing van hulle kwalifikasies begelei.
Prof Gouws vestig Leksikografie suksesvol as ’n kernnavorsingskomponent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch en rig sy eie navorsing uitsluitlik op metaleksikografie en hy word as B2-navorser gegradeer.
Sy omvangryke publikasielys staan tans op 123 artikels in eweknie-geëvalueerde vaktydskrifte; 76 hoofstukke in boeke; en 20 boeke as alleenouteur of as mede-outeur. Hy het ook reeds ʼn totaal van meer as 100 referate, beide internasionaal en plaaslik, gelewer.
Wenner 2021
Prof Van Coller het op sy beurt ‘n formidabele vakkundige publikasierekord as literatuurwetenskaplike, en is boonop ‘n erkende digter, vertaler en prosaskrywer. Hy het sy eerste kwalifikasies aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) verwerf, en sy doktorsgrade aan die Universiteit van Utrecht in Nederland en die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU). Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het hom in 1997 met ‘n bevordering tot uitgelese professor vereer.
Hy publiseer meer as honderd en dertig artikels in geakkrediteerde tydskrifte, veertig hoofstukke in boeke, talle resensies en artikels in populêre tydskrifte en koerante.
Wenner 2021
Prof Wolfaardt-Gräbe, wat haar doktorsgraad aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (deesdae Noordwes-Universiteit) behaal het, was van 1984 tot en met haar aftrede in 2005 verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) – eers aan die Departement Algemene Literatuurwetenskap en later die Departement Afrikaans. Sy is bekend vir haar werk as teoretikus, en as dryfkrag agter die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, ‘n internasionaal gerekende Afrikaanse vaktydskrif.
Sy behaal die D.Litt. et Phil, in Algemene Literatuurwetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Haar proefskrif, Aspekte van poëtiese taalgebruik, is nog steeds ʼn baken in die poësie-analise in Afrikaans. Sy is ʼn belangrike deelnemer aan die debat oor letterkunde en die lees van tekste in Afrikaans in haar 24 artikels, 10 boekhoofstukke en 6 resensies van belangrike teoretiese werke.
Wenner 2020
Prof Jean Christoph Sonnekus, een Suid-Afrika se bekendste akademiese regsgeleerdes, het sedert April 1976 tot sy aftrede in 2016 sy loopbaan by RAU, later Universiteit van Johannesburg deurgebring.
Jean Sonnekus het oor die afgelope 45 jaar 18 boeke of hoofstukke in boeke en meer as driehonderd wetenskaplike artikels geskryf, vele daarvan internasionaal en grotendeels in Afrikaans. Hy het hom deurgaans, ook as redakteur van die Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, sterk beywer vir Afrikaans as regstaal.
Prof Sonnekus is deur die Nasionale Navorsingstigting as ‘n B1-navorser gegradeer, d w s as ’n navorser wat internasionale erkenning geniet en beskou word as ‘n vooraanstaande internasionale kenner van die Huweliksgoederereg en die Sakereg. In 2002 het hy die Toon van den Heever-prys vir Regswetenskap van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang en twee keer die ATKV-prys vir die beste artikel in Afrikaans in ‘n vakkundige tydskrif (2013 en 2019).
H Wenner 2019
Prof Pretorius is een van Suid Afrika se bekendste historici en lewer ‘n reuse bydrae tot die breë geskiedenislandskap. Sy gerekendheid as kundige oor die geskiedenis van die Anglo Boere-oorlog van 1899 tot 1902 dek ‘n wye spektrum. Hy geniet internasionale erkenning met ‘n B1 gradering deur die Internasionale Navorsingsfonds (International Research Foundation). Fransjohan Pretorius het oor die afgelope 45 jaar honderde publikasies geskryf, insluitend boeke en artikels in akademiese asook nie-subsidiedraende tydskrifte.
Sy werk oor kommandolewe tydens die Anglo Boere-oorlog word internasionaal erken as een van die belangrikste ondersoeke na daardie pynlike tydperk van ons land se geskiedenis.
In 1998 ontvang hy die Stalsprys vir Historiese Wetenskappe van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en in 2001 ‘n prestigeprys van die FAK.
Wenner 2018
Professor Christo van Rensburg word vereer vir ‘n loopbaan in diens van Afrikaans en sy historiese variëteite.
Prof Van Rensburg se hele loopbaan het in diens gestaan van Afrikaans en danksy hom het verskeie uiters belangrike sienings oor die taal as studieterrein en oor die taal se herkoms na vore gekom. Reeds sy werk as kenner van Afrikaans se historiese variëteite en ook sy navorsing rakende die herkoms van Afrikaans, in die besonder die invloed van Khoi-Afrikaans, maak hom een van die belangrikste rolspelers nóg in die geskiedenis van die Afrikaanse taalkunde. Sy werk het hy voortgesit ná sy aftrede en tot op die ouderdom van bykans 80 het hy steeds voortreflike en baanbrekende werk gelewer. Prof Van Rensburg is oorlede in Augustus 2018.
Persverklaring: Jan H Marais-prys 2018
Jan H Marais-prys Vir Wetenskaplike Prestasie In Afrikaans: 2018
Wenner 2018
Professor Marinus Wiechers het die weg gebaan vir erkenning van die administratiefreg as ‘n sleutelonderdeel van die Suid-Afrikaanse reg. Sy seminale werk het ‘n model van die Franse Administratiefreg in Suid-Afrika nagevolg waardeur hy ‘n nog immer beduidende bydrae tot die nuwe bedeling in SA gemaak het.
Sy wetenskaplike stem is gereeld en duidelik in die tweede helfte van die twintigste eeu in boeke en artikels gehoor, maar dit het nie stil geword aan die einde van 1997 nie toe hy as rektor van die Universiteit van Suid-Afrika afgetree en voltydse skilder geword het. Hy het tot sy afsterwe in September 2018 ‘n gereelde deelnemer aan die openbare debat, dikwels oor radio en televisie, maar ook as skrywer ‘n bydrae gelewer.
Oorhandigingsseremonie in Pretoria op 24 April 2018
Wenner 2017
Jaap Steyn het oor die afgelope bykans vyftig jaar honderde publikasies geskryf, van koerantartikels tot gedigte en kortverhale. Sy biografieë van NP van Wyk Louw, Piet Cillié en MER word as standaard beskou. Hy het veral bekend geword vir sy twee boeke oor die geskiedenis van Afrikaans, Tuiste in eie taal (1980) en Ons gaan ‘n taal maak (2014).
Vir sy werk het prof. Steyn reeds talle eerbewyse ontvang, onder andere die Stalsprys, die Louis Hiemstraprys, die NP van Wyk Louwmedalje en Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
2017 Persverklaring van Jan H Marais-prys
Volledige Curriculum Vitae van Jaap Steyn
J.C. Steyn: ‘n Man wat sy kennis gedeel het. Rapport Weekliks, 12 September 2021
Wenner 2017
Prof. Van der Watt geniet wêreldwye erkenning as deskundige oor die Nuwe Testament en as sodanig het hy bande met akademiese instellings wat strek van Duitsland en Rusland tot Suid-Korea. Sy talle publikasies (waarvan baie in Afrikaans, maar ook in Duits, Engels en Nederlands) het tot eerbewyse en ook uitnodigings na akademiese instellings orals ter wêreld gelei. Aan die UP is hy as ‘n uitstaande akademikus presteerder erken. In Suid-Afrika het hy onder andere die Andrew Murrayprys en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Ds. Pieter van Drimmelenmedalje ontvang.
2017 Persverklaring van Jan H Marais-prys
Wenner 2016
Hermann Giliomee is al meer as 40 jaar lank nie slegs een van Suid-Afrika se voorste geskiedkundiges nie, maar ook ‘n politieke ontleder wie se mening oor verskeie onderwerpe altyd in aanvraag is.
Tydens sy loopbaan het Giliomee in ‘n ontsagwekkende aantal joernale gepubliseer, baie daarvan hoog aangeslane internasionale publikasies. Die belangrikste is egter sy aansienlike uitset in boekformaat. Hy was met nie minder nie as ‘n dosyn boeke gemoeid as óf die enigste outeur óf mede-outeur, redakteur of mederedakteur.
Eerste wenner van Jan H Marais-prys word aangewys
Oorhandiging van Jan H Marais-prys aan Herman Giliomee
